Nicolette Writes

Professional Freelance Writer and Stay-at-Home Mom

Article Published in LIG, October 2009


TJIRP, TWITTER, TWIEEEEET!!!

Vergeet daarvan om Saterdag saam met die voëls op te staan vir ’n familie-uitstappie: jou kinders slaap heelwaarskynlik laat na ’n ander gesingery wat tot laatnag voor die rekenaar aangegaan het. Ek stof my Jessica Fletcher pakkie af en plaas vir Twitter onder die vergrootglas – is die voëltjie skadeloos, of moet ons die nette span?

As jy tot sover nie veel verstaan van wat ek skryf nie, is jy een van die min mense wat nog nie van Twitter gehoor het nie. Vergeet van Facebook – dis nou soos hulle in die Amerikaanse tienerflieks sê: so laas jaar! Twitter is ’n gratis sosiale netwerk (baie soos Facebook, net meer kripties) wat enige iemand in staat stel, van tannie Doorsie op Patensie tot Barbara Streisand in haar luukse paleis, om as „twitter“ (geregistreerde saamprater op die netwerk) ’n „tweet“ (of boodskap van minder as 140 karakters) te laat val. Hierdie „tweet“ antwoord een vraag: „Wat is ek besig om te doen?“ So, byvoorbeeld, kan David Hasselhoff ons laat weet dat hy nounet cocopops vir ontbyt geëet het (of tannie Doorsie kan natuurlik laat weet dat sy nogsteeds wag vir die manne om van die lande af te kom vir middagete). Jy kan egter net hierdie informasie (of dan „tweets“) sien as jy geregistreer is as ’n “twitter” (saamprater) en jy ’n „follower“ van hierdie mense is… Sjoe, dis dalk te veel Twitter-taal vir een paragraaf! Kom ek vat jou stap vir stap daardeur.

Ek weet self maar min van die voëltjie besigheid af, so ek besluit om die webblad oop te maak. Ek google hom sommer en siedaar (tensy jy dalk tannie Doorsie se internet-lyn op die plaas het…) Op die eerste bladsy tik jy jou gebruikersnaam in (ek kies die kleurlose naam navorsing…miskien moes ek prinses Leya of so iets gekies het) en dan tik jy jou epos-adres in – en boem! Al jou e-pos kontakte wat jy nog ooit ’n e-pos voor gestuur het en wat reeds op Twitter geregistreer is, verskyn voor jou op die skerm. Jy kliek wie jy wil ‚volg’ (wie se „tweets“ of boodskappies oor waarmee hulle besig is wil jy ontvang) en van nou af kry jy boodskappe die oomblik wanneer een van hulle iets tik (soos dat hulle besig is om skuldig te voel oor die wortelkoek wat hulle eet). Jy is nou, soos dit in Twitter-taal bekend staan, ’n „twitter“ en ’n „follower“.

‘n Lewensbelangrike vraag staan voor my op die skerm: “What are you doing?” Versigtig tik ek in: “Ek doen navorsing oor Twitter”… ENTER. Angstig en baie blootgestel begin ek bietjie rondloer op die blougroen webblad voor my. Ek kliek op “search people” en voeg ’n paar bekendes by wat ek wil volg – dis hoe ek gehoor het mens dit doen. Dis nie lank nie of ek weet presies hoe naar Miley Cyrus voel en hoe moeg Paris Hilton is. Skielik ontvang ek twee e-posse: “FREEGASCARD is now following you on Twitter” Wie??? “THIRSTYPAPI is now following you on Twitter”. Dorspappa?? Jy sien, net soos wat jy mense op Twitter kies om boodskappe vanaf te ontvang, kan enige iemand besluit hulle wil jou “follower” word. Hoekom sal enige persoon kies om my op Twitter te volg, wonder ek…my gebuikersnaam is dan “Navorsing”? Dorspappie se profielfoto wys ’n meisie in ’n klein, swart “g-string” in ’n suggestiewe swart toppie en posisie… Volksvreemd, my nartjiepit, sou oom Oubaas nou gesê het.

Twitter antwoord die vraag “wat doen jy?”, maar ek wil graag die volgende vraag antwoord: heg hierdie nuwe tendens waarde toe aan ons lewens? Soos met baie dinge in die lewe is hierdie seker ’n grys area… Ek is nog nie seker of ek belangstel om te weet of een of ander aktrise vandag ’n vol-vet koffie of ’n vetvrye ene drink nie. En, hoe weet ons dit is wel Lyndsay Lohan, of Charlize Theron wat “tweet”? Aan die anderkant, kan Twitter ’n manier wees om Sannie en Jannie te leer oor die lewe: jy sal aan hulle moet verduidelik dat „carebeargirl“ dalk ’n ou omie van 80 is wat kaal voor die skerm sit….hmmmm. Ek het vir ’n paar mense gevra of hulle dink Twitter heg waarde toe tot ons lewens. En is dit veilig vir ons kinders as mense soos Dorspappie hulle kan opspoor en die ouderdomsbeperking van 13 op geen manier deur gebruikers bepaal kan word nie?

Yolande Aucamp (Persoonlike Assistent, 34)

Ek dink Twitter kan waarde tot mense se lewens toevoeg.  Dit bring die buitewêreld nader na jou toe en dis ‘n wapen vir ingeval jy dringend hulp nodig het of in gevaar verkeer… dit mag dalk jou enigste manier van kontak met die buitewêreld wees, want jy kan sommer van jou selfoon af sms. Hoe meer mense dan van jou dilemma weet, hoe vinniger kan jy dalk gehelp word!

Andries Olivier (Sielkundige, 27)

Twitter is ‘n interessante konsep, want mense blyk baie meer van hulself te sê as wat hulle byvoorbeeld in ‘n een-tot-een situasie sou sê. Jy kan dus so meer van ’n persoon uitvind as deur konvensionele kommunikasie. Ek het ook al gelees van skrywers wat kort kortverhale en gedigte publiseer op Twitter en meer lesers het as deur gedrukte publikasies. Die Haiku voldoen ook 100% aan die toegelate hoeveelheid karakters per Twitter boodskap, en het daarom tans ‘n geweldige oplewing.

Anine Liebenberg (Rekenmeester, 27)

Ek dink dit is tans net ‘n vorm van publisiteit wat die bekendes gebruik om hulle beroemdheid aan te meet.  Hoe meer “followers” jy het, hoe meer “beroemd” is jy. Baie van die bekendes gebruik ook Twitter om te spog oor hoe wild hulle lewensstyl is. Ek dink dit is gevaarlik vir kinders in die sin dat kinders die bekendes se boodskappe sien oor hoe wild hulle lewensstyl is, en dan probeer hulle dit naboots. Ek dink nie dit voeg enigiets waardevols by tot mense se lewens nie.

Johan Vermaak (Sakeman, 40)

Ek dink dat Twitter wel waarde kan toevoeg tot ons lewens. Ons almal weet dat die nuus wat ons in die koerante lees gefilter word deur ‘n sekere lens. Op Twitter kan ons egter hoor van dinge wat in die wêreld gebeur van verskillende oogpunte. Hier help ons almal skryf aan die nuus. Ek dink ook dit is baie hulpvol vir mense wat navorsing doen. Binne sekondes kan ’n mens antwoorde op jou vrae kry en mense kan vir jou bronne aanstuur wat jou kan help.

Ek moet erken… ek kyk elke dag na Facebook en ek is seker ek gaan van nou af elke dag ook op Twitter ‘twiet’! Die belangrike vraag is dus: lees ek elke dag Bybel? Ken ek nie dalk my vriende beter as wat ek God ken nie? Kan tegnologie in die vorm van Twitter werklik vir my help om versoekinge, moeilike dae, twyfel en vrees die hoof te bied soos wat die Bybel kan? In 2 Timotheus 3: 16 staan daar: “Die hele Skrif is deur God geinspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.” Ek dink ook ons moet versigtig wees vir ’n tekort aan selfbeheersing wat sekere webblaaie in ons aanwakker. As ek elke 5 minute van my Word dokument moet oorslaan Facebook toe, behoort ek dit te sien as n rooi lig.

Twitter – hierdie voëltjie sing om ons te herinner dat die wêreld nie stilstaan nie. So wees nou lekker koel en spiftelik en gaan kyk self ’n beitjie wat daar aangaan (www.twitter.com). Op ’n positiewe noot, dink ek om te fluit (of te “twitter”!) is nie so ‘n slegte ding nie. Indien ons ons kinders kan monitor, dit nie ‘n afgod raak nie en ons dit wat ons self doen aan heilige maatstawwe kan meet, waarom dan met droeë opgedoende hare op die kantlyn sit as ons die krulle kan laat gaan en inspring. Die prediker het tog gemaan: “Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat ‘n mens so sê nie.”  Fluit ’n bietjie saam op die wêreldwye web!

Nicolette Ferreira

Advertisements

Single Post Navigation

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: