Nicolette Writes

Professional Freelance Writer and Stay-at-Home Mom

Kry ‘n (tweede) lewe!


Kry ‘n (tweede) lewe!

Deur Nicolette Ferreira

Ek wonder altyd wat my oë nog alles gaan sien. My kinders gaan heel moontlik eendag skaterlag vir die klere wat ek vandag dra: ‘n rokkie oor swart ski pants (ook bekend as sellulietstokkies). Hulle sal seker ook lag vir die piepklein selfoon wat ek tans gebruik en my oulike, sexy wit skootrekenaar. Vir hulle gaan dit teen daardie tyd “so outyds” wees. Hoe meer dae, hoe meer dinge. Kom ek vertel jou van nog ’n nuwe ding!
Second Life (SL) is ’n virtuele wêreld (dink byvoorbeeld aan die wêreld waarin jy ‘is’ wanneer jy ’n speletjie soos Super Mario of Simms speel). Indien jy jonger as 25 is, sal jy nou lekker lag vir my stokoud voorbeelde!

Die inwoners met wie jy interaksie het, is almal gebruikers net soos jy – regte mense agter hulle rekenaarskerms. Sommige mense gaan glo so gereeld oor na hierdie ‘wêreld’, dat wanneer jy aan hulle sal noem dat jy ’n vriend ontmoet vir koffie en koek, hulle jou sal vra: “In die werklike wêreld, of in die tweede wêreld?”

Klink dit bietjie absurd? Wel, dalk is dit nog nie so gewild in Suid-Afrika nie, maar kry maar eerder al die feite en wees ‘hiep’ en verlig. Die gewildheid van SL in ander lande laat ’n mens skrik. Hoekom juis ‘skrik’? Ek deel ’n bietjie meer oor hierdie program, sodat jy self ’n ingeligte besluit kan maak.

As gebruiker (jy registreer verniet by http://www.secondlife.com), kan jy ’n identiteit skep, enigiets van ’n langbeen rasta man tot ’n tawwe ketting-draende vrou. Hierdie karakters op die skerm staan bekend as avatars (nou maak die onlangse nuwe fliek, Avatar, se naam dalk ook ’n bietjie meer vir jou sin). Jy kan nou ’n huis koop, besigheid doen en ’n vrou of man ontmoet (in watter volgorde jy ook sou verkies). Wat SL so uniek maak, is dat alles wat in SL geskep word, vanaf inkopiesentrums tot oulike bykomstighede vir avatars, geld in die werklike lewe kan genereer.

Die geldeenheid in SL staan bekend as Linden Dollars (die naam kom van die skeppers van SL, die Linden Lab in San Francisco). Dus, na jou gratis registrasie, kan jy Linden Dollars koop teen, volgens die huidige wisselkoers, so 280 Linden Dollars vir 1 Dollar. Daar word bereken dat ongeveer 17,000 SL inwoners ongeveer ’n $1000 ’n maand maak. Baie van die mense het byvoorbeeld vir hulle werke geskep as handelaars of ontwerpers van klere en bykomstighede vir SL inwoners.

In SL kan jy rond loop en ander inwoners ontmoet, sosialiseer, die wêreld plat reis en deelneem aan allerlei aktiwiteite (van klas bywoon… tot seks). Jy beweeg rond deur gebruik te maak van jou muis en sleutelbord-knoppies – soortgelyk aan hoe jy dit sou doen in ’n rekenaarspeletjie. Anders as met ’n rekenaarspeletjie, is daar nie hier wen of verloor nie. Dit is inderdaad bloot ’n tweede lewe. SL is vir mense 18 en ouer, terwyl Teen Second Life vir ouderdomme 13-17 geskik is. Kliek op http://www.secondlife.com en jy sal gou ’n idée kry waaroor hierdie tweede lewe ding alles gaan!

So waarom speel mense nou eintlik SL? Ek het bietjie navorsing gedoen op die gewilde sosiale netwerk, Facebook, en hier is wat die mense sê:

Ek speel vir die pret daarvan. So ontmoet ek nuwe mense en doen dinge wat ek nie in die regte lewe kan doen nie. In SL is ek ’n supermodel en ek is mal daaroor.

Wel, ek ‘speel’ nie SL nie – dis nie ‘n speletjie nie – ek het ’n besigheid daar!

Ek wens meer dinge kan gedoen word soos in SL. Dan kan mens jou omgewing verander soos dit jou pas, jy kan jou voorkoms verander, hare en vel, en jy kan vir ure en ure dans sonder om moeg te word. (Nou wonder ek of dit soveel pret is om in SL te dans soos in die regte lewe…seer voete en al?)

Skielik wonder ek by myself: met wie sal my SL karakter nou eintlik dans? Ja, ek het hierdie ‘ander ek’ inderdaad op SL gaan skep! Sy is die witwarme Nikita Piancastellios. Met wie sal ek dan nou anders wil dans as met my man? En as hy nie ’n SL gebruiker is nie? En sê nou maar iemand kom na my toe en hy wil, wel, uhhhm…patla? Hier is wat sommige gebruikers hieroor te sê het:

Die persoon wat ek in SL sien is wonderlik, maar ons is beide gelukkig getroud in die regte lewe (sy vrou is so wonderlik soos my man)

My SL vrou is wonderlik! Ek kon nie vir iemand beter vra nie. As ek die geleentheid kry, sal ek haar graag in die regte lewe wil ontmoet.

Ek het Anle Roelofse gevra wat sy dink oor hierdie nuwe, gewilde kuber-ruimte:

Ek is regtig nie beindruk met SL nie. Ek dink SL is sad. Hoekom in ’n virtuele omgewing leef, eerder as om by die deur uit te gaan en werklik te LEEF. ’n Algemene opinie is dat mense daar dinge kan beleef, besit, ervaar, wat jy nie in jou eie werklike omstandighede kan nie, soos om met ’n model uit te gaan, of op ’n eksotiese vakansie te gaan. Maar nee wat, ek gebruik eerder die ure wat ander agter die rekenaar spandeer om vir hulle ’n tweede lewe te skep, om die paar ekstra ponde te gaan maak wat ek nodig het om eendag in lewende lywe na daardie eksotiese eiland te gaan. Dan kan ek darem terug kom met ’n werklike tan! My opinie: Moenie ’n tweede lewe kry nie – kry ‘n lewe!

Ek is seker SL het ook sy voordele. Met my positiewe houding branderry ek gou weer die web. Ek vind ’n gebruiker wat skryf dat sy by SL aangesluit het om haar nuutste boek te bemark. Jy sien, in SL hoef jy nie nie net ’n mens te wees nie – jy kan ’n hondjie, ’n plakkaat, of enige iets wees! Die spesifieke gebruiker skryf dat sy ’n lopende advertensie-bord in SL is. Interessant! Dit kan nogals goed werk!

Ander lesers skryf dat hulle aangesluit het oor hulle geinteresseerd is in lesings en konserte (dalk kan julle nuwe musiekgroep hier julle musiek ’n bietjie meer blootstelling gee?). SL word ook deur baie instansies soos biblioteke en universiteite gebruik as platform vir opleiding. Indien jy oor lang-afstand studeer, of die instansie vir wie jy werk oorsee is, kan jy nou ’n klas of vergadering bywoon in die virtuele wêreld. Sekere kerke het ook al dienste in SL, en dit werk glo goed aangesien sommige mense meer gemaklik voel om só geloofskwessies te bespreek.

Eerste lewe…tweede lewe. Wel, ek moet saam met Anle stem – ’n Sondag boud en sjokolade-poeding is net te lekker om te verruil vir ’n rekenaarweergawe! En soos die bekende sê-ding gaan: enigiets waarby jy ’n ‘te’ kan sit, is nie goed nie…so moenie ‘te’ veel tyd in die tweede lewe spandeer nie!

Bronne:

http://www.secondlife.com
http://www.facebook.com

Single Post Navigation

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: